Wêreldleier in hartjie van Marikana

Wêreldleier in hartjie van Marikana

Net in Suid-Afrika kry jy sulke teenstrydighede.

Wêreldleier in hartjie van Marikana

Publication: Sake 24
Source: www.sake24.com
Journalist: Jan de Lange

Net in Suid-Afrika kry jy sulke teenstrydighede.

In die veld, minder as 500 m van die koppie waar die Marikana-slagting die land se ergste ekonomiese krisis sedert 1994 aan die gang gesit het met moetie-toordoktery, werk een van die wêreld se mees verfynde stukke mynboutoerusting.

Dis ’n reusagtige trekboor van Master Drilling wat met hipermoderne tegnologie binne drie maande ’n nuwe skag van 1 km diep vir Lonmin gaan boor. Dis een van die drie grootstes in die wêreld.

Die gat waaraan hy boor, gaan aanvanklik ’n ventilasie­skag wees, maar moet mettertyd ook mense, toerusting en erts op en af hys. Daarom wil Lonmin ’n skag met ’n deursnit van 5,5 m daar hê.

“Geen probleem,” sê Koos Jordaan, tegniese direkteur van Master Drilling, en spring aan die werk. Sy span, opgelei in die maatskappy se opleidingsentrum in die stowwerige Foch­ville in Gauteng, het in Desember verlede jaar daar in die veld kamp opgeslaan.

Sedertdien het hulle fondasies gelê vir ’n boormasjien en ’n loodsgat met verstommende akkuraatheid tot deur die dak van ’n ondergrondse gang presies 998 m onder die fondasies van die boormasjien geboor.

Die booraste van soliede staal is die grootste in die wêreld. Dit bestaan uit seksies van 2 m lank en sowat 30 cm in deursnit. Elke seksie weeg tussen 1,5 ton en 2 ton.

Werk dit uit – dis naastenby 640 ton staal wat aan die boormasjien hang wanneer die loodsboor uiteindelik deur die dak van die ondergrondse myngang breek. Naastenby, want die stawe waaruit die boorstang aanmekaar geskroef word, is om ’n tegniese rede nie almal ewe lank nie.

Dit word in Master Drilling se werkswinkel op Fochville gesny uit spesiale staal wat in China aangekoop word. “Elke stuk staal word deur ons self getoets voordat ons dit koop – ons koop nie op groot skaal nie om die spesifikasies te kan monitor,” sê Jordaan.

Die groewe waarmee die seksies aanmekaar geskroef word, is deur Master Drilling ontwerp om presies die regte toleransies te hanteer sodat die boorstaaf van meer as 600 ton en die boorkop van sowat 30 ton onderaan ten volle beheer kan word.

Dis wêreldleierskap in tegnologie uit Fochville.

Kyk na die syfers as jy dink dis kleindorpse grootdoenerigheid: Master Drilling se bestelboek vir 2013 staan nou op $200 miljoen. Hy het die afgelope jare sowat 60% van sy verdienste in die buiteland verdien, maar vanjaar gaan dit sowat 70% wees.

Hy doen dié soort spesialis-boorwerk in onder meer Australië, China, Saoedi-Arabië, verskeie Afrika-lande, waaronder die Demokratiese Republiek van die Kongo, Zambië, Mali, die Ivoorkus en Burkina Faso, en in Brasilië, Chili, Peru, Colombia en Mexiko.

In die werkwinkel word nog ’n boorkop van 5,5 m wyd, wat in Saoedi-Arabië vir Newmont geboor het, nou gerestoureer. Dit word een van die dae na Mali verskeep, waar Randgold Resources nog ’n goudmyn ontwikkel.

Sy grootste boormasjien kan tot 8 m wyd boor – die enigste van twee in die wêreld met dié deursnit, maar in Fochville word gewerk aan ’n boor met ’n deursnit van 10 m wat loshande die wêreld se grootste sal wees.

“Ons en Murray & Roberts (M&R) het saam sowat 40% van die wêreldmark. M&R het tussen 20 en 30 bore. Ons het op die oomblik 92. Daar is nie eintlik twyfel dat ons die wêreldleier is nie,” sê Danie Pretorius, stigter en uitvoerende hoof van die maatskappy, wat kort voor Kersdag, op 20 Desember, op die JSE genoteer is.

Al die ander groot boorders verskaf dié dienste as deel van algemene mynboukontrakte. Master Drilling is die enigste wat hom op spesialisboorwerk toespits.

Slimbore boor nie net

Kort ná Master Drilling se notering vroeër vanjaar op die JSE het Kumba ’n kontrak van R1 miljard oor die volgende vyf jaar met die maatskappy gesluit vir eksplorasiewerk en produksieboordery by Kumba se taamlik nuwe Kolomela-myn in die Noord-Kaap.

“Dis vir eksplorasie om Kolomela se ertsliggaam beter te definieer, maar ook om skietboorwerk in die bestaande myngroewe te doen. Die eksplorasiewerk sal met die eerste slimbore in Afrika gedoen word,” sê Danie Pretorius van Master Drilling.

Dié bore maal rotsmonsters onmiddellik fyn en ontleed dit dadelik met strale. Die data word dan elektronies tot geologiese data verwerk wat onmiddellik as eksplorasieresultate beskikbaar is. Normaalweg duur dit vier tot ses maande omdat die monsters eers in laboratoriums ontleed moet word.

JSE-notering deels omdat beheer beste ter wêreld is

Danie Pretorius, stigter en uitvoerende hoof van Master Drillers, het die maatskappy 26 jaar gelede gestig en stelselmatig uitgebou, maar die afgelope vier of vyf jaar het Master Drilling só vinnig gegroei dat ’n notering onvermydelik geword het.

“Ons sou op die AIM-beurs in Londen genoteer het en het maande lank daarvoor voorberei. Dit sou op 18 Desember gebeur het. Marikana het egter die stemming teenoor die Suid-Afrikaanse mynbedryf in Londen só negatief gemaak dat ons op die nippertjie, op 12 Desember, besluit het om liewer op die JSE te noteer.

“Ons grootste beleggers, Investec en Coronation Capital, het daarmee saamgestem. Hulle sê beheer op die JSE is van die beste ter wêreld,” sê Pretorius.

Die R352,5 miljoen wat met die notering verkry is, het skuld afgelos en vyf nuwe bore gekoop.

Die maatskappy het sowat 2 800 werkers, van wie sowat 500 in Suid-Afrika werk.

Alle spesialistoerusting word self gemaak, maar geen toerusting word verkoop nie weens die intellektuele-eiendomswaarde daarvan.

Vordering met projekte en alle voorvalle met boorwerk oral in die wêreld word noukeurig in ’n intranet aangeteken en in ’n databank verwerk vir navorsing en opleiding. “Ons bewaar dit, want ons doen feitlik daagliks dinge wat nog nooit vantevore gedoen is nie,” sê Koos Jordaan, tegniese direkteur.