Boorders boer vooruit

Dit is nie aldag dat ’n mynmaatskappy ’n afname van 9% in ­inkomste ervaar, en steeds sy wins met 14% verhoog nie. Dit is egter presies wat die gespesialiseerde boormaatskappy Master Drilling in die boekjaar tot einde Mei gedoen het, deur die spesiale uitdagings wat die moeilike toestande in die mynbedryf tans bied, tot sy voordeel te benut.Deur onder meer die swakheid van die ontluikende geldeenhede te benut om koste laag te hou, die benutting van masjiene te verhoog om kliënte te help om ontwikkelingswerk in myne te versnel, en om stygende arbeidskoste met meganisasie die hoof te bied, kon die maatskappy, wat in Fochville gebaseer is, stewige winsgroei genereer.

Hoewel die totale inkomste vir die volle boekjaar met 9% van US$132 miljoen tot US$119 miljoen gedaal het, was die wins van US$21,1 miljoen 14% hoër as die vorige jaar se US$18,5 miljoen.
Die verdienste per aandeel in Amerikaanse dollar was 14% hoër, maar die verdienste in rand het met 39% tot 123,7c toegeneem.
Danie Pretorius, uitvoerende hoof, sê die mynbedryf ervaar moeilike toestande weens lae kommoditeitspryse. Die inkomste uit eksplorasie-boorwerk en nuwe kapitaalprojekte was onder erge druk. Die daling in ­inkomste het hoofsaaklik in Suid-Afrika voorgekom.
“Bestaande mynmaatskappye kan egter nie voortbestaan as hulle nie aanhou om ontwikkelingswerk te doen om nuwe ertsliggame bloot te lê nie. Sulke gespesialiseerde hori­sontale boorwerk was weer Master Drillers se brood en botter,” het hy in ’n onderhoud gesê.
“As kommoditeitspryse laag is, sal maatskappy eerder hoë-graad-erts ontgin en die behoefte om so gou moontlik by die erts uit te kom, raak dan van wesentlike belang.”

Kostebesparings
Master Drilling het in die afgelope jaar weer meer as US$18 miljoen aan die ontwikkeling van meer gevorderde bore bestee en sowel die maatskappy self as sy kliënte het baie daarby baat gevind.
Die nuwe masjiene het onder meer die benutting van toerusting verhoog, wat tot groot kostebesparings vir alle belanghebbendes gelei het. Pretorius sê die volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse myne word wesentlik deur stygende arbeidskoste bedreig en dit bied groot uitdagings vir ondernemings soos syne om met nuwe tegnologie vorendag te kom om die gebruik van arbeid te verminder. Daarom word daar voortdurend in eerstewêreldse tegnologie belê om die doeltreffender gebruik van arbeid moontlik te maak.
Die swakheid van die rand en ander ontluikende geldeenhede in Suid-Amerika, waar die maatskappy ook sake doen, is grootliks tot die maatskappy se voordeel gebruik.
Pretorius sê daar was ’n doelbewuste poging om soveel aankope moontlik te doen in die land waarvan die geldeenhede swak is, want dit beteken dat die maatskappy, wat sy sake in dollar verreken, minder in dollar vir die aankope betaal.
Hy raam trouens dat die swakheid van die geldeenhede waarin die maatskappy sake doen, uiteindelik sowat 11% tot die winsgroei bygedra het.
Die winsbydrae uit Suid-Afrika, waar die rand ongekende laagtepunte bereik het, het trouens van US$12,5 miljoen tot US$16 miljoen gestyg, al het die inkomste uit die streek van US$44,5 miljoen tot US$30,7 miljoen gedaal.
Die inkomste uit Suid-Amerika, waarvan die oorgrote meerderheid in Chili verdien is, het van 50% van die totaal tot 52% gestyg, terwyl die bydrae uit die res van Afrika van 15% in die vorige jaar tot 23% toegeneem het. –

Source: http://www.republikein.com.na/sakenuus/boorders-boer-vooruit.266372